#OnsDorp: AfriForum se Cradock-tak verf straatname
AfriForum se Cradock-tak het as deel van hul #OnsDorp-projek 64 straatname in die dorp op randstene geverf. Dié projek is deur die loop van September en Oktober met behulp van 12 vrywilligers aangepak.
Die straatname was ná jare se gebrek aan onderhoud al byna onleesbaar. Benewens die feit dat dit onnet gelyk het, is daar ook veiligheidskwessies wat hier ter sprake kom wanneer nooddienste nie vinnig genoeg by mense kan uitkom nie omdat die straatname nie duidelik is nie.
Ten einde hierdie projek aan te pak is metaalstensils vir elke straatnaam vervaardig wat dit in die toekoms makliker sal maak om straatname oor te verf waar dit nodig mag wees.
Volgens Wayne de Beer, voorsitter van AfriForum se Cradock-tak, was dit verblydend om te sien hoe lede van die publiek ingespring het om te help met hierdie projek.
Louis van der Vyver, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Kaap, meen dat hoewel dit hartseer is dat dienslewering in hierdie geskiedkundige dorp agteruit gaan en die publiek vervolgens moet inspring om algehele verval te verhoed, is dit positief dat mense bereid is om hul tyd op te offer om te help.
“Ons hoop dat hierdie nuut oorgeverfde straatname minstens sal bydra daartoe dat nooddienste makliker by huise kan uitkom en dat toeriste wat hierdie mooi dorp besoek ook makliker hul weg kan vind,” sê Van der Vyver.
Volgens Van der Vyver is duidelike straatname in ’n noodsituasie ’n saak van lewe en dood.
“As die munisipaliteit nie hulle verpligtinge teenoor die gemeenskap wil nakom nie moet ons self opstaan, moue oprol en aan die werk spring. Ons sal hierdie projek voortsit in ander dele van die dorp, indien dit die inkoop van die inwoners het,” sluit Van der Vyver af.

AfriForum moedig die publiek aan om by hul naaste AfriForum-tak aan te sluit. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting of om betrokke te raak.



