|

Organisasiebou: Isolasie is dikwels ’n keuse

Deur Ernst van Zyl – hoof van Openbare Betrekkinge by AfriForum

Ernst van Zyl

Die ontstellende ontbinding en verbrokkeling van fundamentele sosiale en gemeenskaplike waardes, bande en verhoudings is nie ’n verskynsel eksklusief aan gemeenskappe in Suid-Afrika nie. Oor die hele Westerse wêreld heen is talle gevestigde gemeenskappe, groot en klein, besig om te disintegreer. Prof. Koos Malan, ’n konstitusionele juris, verwys gereeld na die woestyn van wanorde-scenario wat in Suid-Afrika uitspeel. Ons sien veral op die Suid-Afrikaanse platteland hoe infrastruktuur verval en wet, orde en welvaart opdroog. Die spreekwoordelike verwoestyning van ons samelewing beteken egter nie dat die uitsterf van ons gemeenskappe ’n uitgemaakte saak is nie. Woestyne spog tog almal met oases van orde.

Hoewel woestyne onherbergsame, harde en genadelose plekke is, is hulle egter óók ryk aan ’n wye verskeidenheid diere en plante – almal met baie unieke en doeltreffende oorlewingstrategieë. Die versamelvoëls van die Kalahari is ’n sprekende voorbeeld hiervan. Een versamelvoëltjie op sy eie sal nooit oorleef in die genadelose woestyn nie, maar ’n  swerm wat hul kragte saamspan en ’n versamelnes op ’n veilige plek bou, kry dit nie slegs reg om te oorleef nie, hulle floreer selfs.

N.P. van Wyk Louw

Reeds in 1939 het die Afrikaanse digter en filosoof N.P. van Wyk Louw die Afrikaner se vestiging van kultuurorganisasies bestempel as “’n manier om hom aan te pas by die nuwe omstandighede in die nuwe land, net soos die wit pels van die poolvos of die vetblare van die Karooplant aanpassingsorgane is”. Net soos in die eerste helfte van die 20ste eeu, het organisasiebou weereens ’n kritieke aanpassingsmeganisme geword vir die Afrikaner in ’n “nuwe land”. Die krag van kultuurorganisasies lê vir Louw in die manier waarop hulle Afrikaners kan saamsnoer tot ’n eenheid, wat ons as yl verspreide minderheidsvolk ongelukkig “nie territoriaal besit nie”.

Die ontwikkeling van verskeie nuwe organisasies onder Afrikaners in die 30 jaar ná 1994 sou Louw waarskynlik nie onkant gevang het nie. Hy het juis in sy geestesoog gesien hoe organisasiebou ’n kritieke en groeiende rol in die toekoms van die Afrikaners sou speel in ons epiese en ewige stryd om voortbestaan. Sy voorspelling in 1939 lui soos volg: “En juis omdat hierdie vorm van organisasie so noodsaaklik vir ons voortbestaan as volk is, sal dit ook nog baie verder ontwikkel, sowel wat omvang as integrasie betref. Ons staan nog maar eintlik aan die begin van hierdie groot ontwikkeling. Die dag sal kom dat daar ’n net van Afrikaanse kultuurorganisasies oor ons land uitgestrek lê, waarin elke Afrikaner, van die geringste tot die hoogste, betrokke sal wees; wat waarskynlik sterk sentraal saamgesnoer sal wees en soos ’n piramiede sal oploop tot sy spits, en waarin alle belange van die Afrikaner as aparte groep verteenwoordig sal wees. Dit is ’n toekomstige ontwikkeling wat los staan van alle politieke oorwegings en wat alleen deur die volk se wil om te bestaan, bepaal sal word.”

Een van die lotsbepalende faktore vir Afrikaners in die 21ste eeu gaan beslis wees hoe doeltreffend ons op groterwordende skaal organisasie- en gemeenskapsbouers gaan word. ’n Goeie voorbeeld van die vrugte wat gepluk kan word van organisasie- en gemeenskapsbou is die ontstaan en groei van AfriForum.

Ná ’n beskeie begin nagenoeg 20 jaar gelede, verenig AfriForum vandag ongeveer 300 000 lede, meer as 175 takke en duisende vrywilligers landwyd met ’n gedeelde doelwit. AfriForum kry dit reg deur Afrikaners te voorsien met die gemeenskapsbougereedskap wat hulle benodig om as georganiseerde gemeenskappe ’n vry, veilige en voorspoedige toekoms vir ons en ons nageslag te help bou in Suid-Afrika.

Duidelik het die bepalende faktor in Louw se analise, naamlik die onwrikbare wil om voort te bestaan, weereens geseëvier. Die begeesterde groep jongmense wat betrokke raak by die Solidariteit Beweging se menigte instellings en projekte en sodoende die fakkel van verantwoordelikheid stewig in hul hande neem, is ’n sprekende voorbeeld van die vermenigvuldigende krag van saamstaan en saambou.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, som die nuwe positiewe ingesteldheid, houding en uitkyk wat die afgelope 30 jaar onder Afrikaners wortel geskiet het, mooi op: “Ons wil self. Ons kan self. Ons mag self. Ons sal self!”

Kom ons doen vandag ons deel om sodoende te verseker dat ons aksies steeds dieselfde aanpasbaarheid weerspieël wat Louw destyds raakgesien het onder Afrikaners van sy tyd. AfriForum besef ons verantwoordelikheid in hierdie stryd deur vir mense die geleenthede en strukture te skep om aktief betrokke te raak by die herstel, behoud, beveiliging en versterking van hul gemeenskappe.

Isolasie is ongelukkig vandag ’n gewilde keuse. ’n Kortsigtige keuse wat deur menige gemaak word ter wille van gerief, gemak of selfsug. Wie gaan jou in jou isolasie beskerm as jy, jou gesin of jou kultuur aangeval en bedreig word? Vind eerder jou naaste AfriForum-tak of gemeenskapsveiligheidstruktuur, leer ken die mense en raak betrokke. Identifiseer die organisasies en individue wat ’n positiewe verskil in jou omgewing maak en sluit aan of ondersteun hulle met ’n skenking, jou tyd of selfs iets so eenvoudig soos gepaste woorde van waardering en bemoediging. Raak betrokke by instellings waar jou gemeenskap organiseer en bymekaarkom – by jou skool, kerk, diensorganisasies, kultuurfeeste en so meer. Selfs ’n eenvoudige aksie, soos om jou bure te leer ken en met hulle te gesels oor praktiese oplossings vir die probleme in julle buurt, is reeds die gedrag van ’n gemeenskapsbouer.

Kom ons hou aan om kollektief op die uitdagings van ons tyd te reageer. Kom ons doen dit op so ’n wyse dat dit nie net mense plaaslik nie, maar ook in die buiteland se verbeelding aangryp. Sodoende inspireer ons mekaar onderling om ondersteuningsnetwerke te bou en ontlok ons opmerkings in die buiteland soos: “Ja, ek weet van die Afrikaners. Julle is mos die manne met die planne!”

Afrikaners moet met trots doen én verkondig “’n Boer maak ’n plan én ’n Boer is ’n gemeenskapsbouer!”

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners