|

Reuse-gat in Pretoria-Noord iets van verlede ná AfriForum druk op Tshwane-metro toepas

Danksy AfriForum en die gemeenskap se volgehoue druk, het die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit uiteindelik ’n aanhoudende ondergrondse rioollekkasie in Pretoria-Noord, wat ’n reuse-gat in Ragel de Beer-straat onder die duikweg veroorsaak het, herstel. Dié gat van nagenoeg twee meter diep én in deursnee, het vir meer as nege maande chaos op die pad tot gevolg gehad en is ook herstel. Die metro het Maandag met die herstelwerk begin en dit Dinsdag voltooi.

Dit was egter die metro se vyfde poging om die rioollekkasie en die gat te herstel. Die lekkasie is die gevolg van verouderde infrastruktuur wat nie onderhou word nie en elke keer net stuk-stuk vervang word in plaas daarvan dat dit heeltemal vervang word. Elke keer wanneer die lekkasie voorgekom het, het die pad verbrokkel.

Die gat het motoriste se voertuie beskadig, terwyl die rioollekkasie ernstige gesondheidsrisiko’s vir inwoners ingehou hou. Nadat die Tshwane-metro vir maande onsuksesvol was met die herstelwerk, het AfriForum se Noord van die Berg-tak egter besluit om  ’n kontrakteur aan te stel om die lekkasie en die gat reg te maak. ’n Projek is op sosiale media van stapel gestuur om fondse vir hierdie herstelwerk in te samel en binne drie weke is die teiken van R130 000 bereik en onderhandelinge met die Tshwane-metro vir die herstelwerk het begin. Tot groot verbasing het die metro toe nou sélf ingespring om die werk te doen – sonder enige hulp van AfriForum.

“Net toe ons met die Tshwane-metro begin reëlings tref om die werk professioneel en deeglik te laat doen, daag hulle skielik op en begin haastig met herstelwerk. Dit was egter duidelik ’n poging sonder behoorlike beplanning of kommunikasie want niemand het geweet wat om te doen nie en die gehalte van die werk laat baie te wense oor,” sê Llewellynn Hemmens, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Noord.

Hoewel AfriForum enige poging verwelkom om infrastruktuur te herstel, wil die organisasie weet waarom die metro eers opgetree het ná die gemeenskap druk begin uitoefen het.

“Dit wys duidelik dat die Tshwane-metro eers reageer wanneer die gemeenskap hulle aanvat. Ons sal die situasie moniteer om seker te maak dat die herstelwerk volgens standaard gedoen is en nie net as ’n haastige poging om kritiek stil te maak nie. Ons gaan ook die fondse wat aanvanklik vir die herstelwerk ingesamel is, gebruik om ander dele van Pretoria-Noord te onderhou met ’n groot fokus op die herstel van slaggate.”

AfriForum se Noord van die Berg-tak bedank die inwoners van Pretoria-Noord vir hul ongelooflike steun en betrokkenheid. “Gemeenskapskrag werk en dít is hoekom ons aanhou druk toepas,” sluit Hemmens af.

AfriForum gaan voort om die verval in Pretoria-Noord te takel. Besoek www.wordlid.co.za om hierdie pogings te ondersteun.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf