Saailingopleiding verbeter landelike voedselsekerheid en gemeenskapselfstandigheid
AfriForum en Saai het vandeesweek hande gevat met Nkosi Zweloxolo Stokwe en die Adopt-A-Village Landelike Voedselsekerheidsinisiatief om die Mtingwevu-gemeenskap, naby Cala in die Oos-Kaap te bemagtig met kennis om saailinge te kweek vir hul groentetuine. Ongeveer 55 gemeenskapslede van 50 huishoudings het die opleiding wat deur Stark Ayres aangebied is bygewoon. Die saailingbakke wat vir die opleiding gebruik is, is deur Hygrotech geskenk. Nkosi Zweloxolo Stokwe is die Nkosi van die AmaQwathi-kultuurgemeenskap.
Dié opleiding volg nadat die Adopt-A-Village Landelike Voedselsekerheidsinisiatief vir AfriForum genader het oor moontlike samewerking. Die inisiatief het reeds in 2022 by die Mtingwevu-gemeenskap betrokke geraak toe ’n pakket van groentesaailinge, vrugtebome, mieliesaad, aartappelmoere, ’n jojo-tenk vir reënwateroesting en tuingereedskap aan die 50 huishoudings van die Lakheka Mtingwevu Landbou-inisiatief tydens die eerste fase van hul ontwikkelingsprojek oorhandig is. Die hoofoogmerke van die inisiatief is om huishoudelike groenteproduksie te laat herleef, om afhanklikheid van regeringstoelae te verminder, holistiese selfversorgendheid en gesonde eetgewoontes te ontwikkel en om dissipline, toewyding en sterk werksetiek te bevorder. Die uitkomste wat die inisiatief graag wil bereik is voedselsekerheid en landelike gemeenskapsontwikkeling, vaardigheidsontwikkeling, armoedeverligting en gemeenskapsgesondheid deur voedingswaarde bewustheid en organiese landboumetodes.
“Ek is baie trots op die Mtingwevu-gemeenskapslede wat verantwoordelikheid neem en toegewyd werk om hul lewensomstandighede self te verbeter. Ek is baie dankbaar dat die Adopt-A-Village Rural Food Security Initiative, AfriForum en Saai met ons kom hande vat om ons voetsoolvlak gemeenskappe met kennis en vaardighede toe te rus sodat hulle meer selfvoorsienend kan wees,” sê Nkosi Zweloxolo Stokwe.
“Ons as lede van die Lakheka Mtingwevu Landbou-inisiatief is tevrede met wat ons reeds sedert 2022 bereik het. Ons het meer veerkragtig, vindingryk, geduldig en bestendig geword. Ons is dankbaar vir die ondersteuning van al die rolspelers. Die opleiding wat ons ontvang het gaan dit vir ons moontlik maak om vinniger vooruit te gaan. Dit skep vir gemeenskapslede wat hard werk en die potensiaal het die geleentheid om ook ’n inkomste te verdien uit die verkoop van saailing aan gemeenskapslede en ander gemeenskappe in die omgewing. Dit is verblydend om te weet dat ons ’n bydrae maak om te verseker dat voedsame kos veral vir swanger vroue en kinders beskikbaar is,” sê Nokhayalethu Daliwe, voorsitster van die Lakheka Mtingwevu Landbou-inisiatief.
“Die Oos-Kaap het geweldige landboupotensiaal wat ontsluit kan word om voedselsekerheid te verbeter en om opkomende boere wat die potensiaal toon tot volwaardige kommersiële boere te laat ontwikkel. Dit is daarom vir Saai belangrik om by hierdie inisiatief betrokke te wees om familieboere te ondersteun en sodoende by te dra tot voedselsekerheid en welvaartskepping op voetsoolvlak,” sê dr Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai.
“Ons as verskillende kultuurgemeenskappe in ons mooi land kan almal bymekaar leer en die werklikheid is dat ons mekaar nodig het om ’n mooi toekoms vir almal hier moontlik te maak. Dit is vir AfriForum ’n voorreg om op die grondslag van wedersydse erkenning en respek goeie verhoudings en samewerking tussen Afrikaners en ander kultuurgemeenskappe te vestig. Ons samewerking fokus op die versterking van gemeenskapselfstandigheid en die herstel van ’n gesonde kulturele selfbeeld, omdat beide noodsaaklik is vir gemeenskappe om hul volle potensiaal te bereik. Ons is dankbaar teenoor ons lede en die borge, Stark Ayres en Hygrotech, wat dit vir ons moontlik maak om ’n positiewe verskil te maak waar dit saak maak – in die lewens van mense op voetsoolvlak,” sê Nantes Kelder, nasionale projekkoördineerder vir Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum.







