|

Saak oor publikasie van matriekuitslae Maandag in hof aangehoor

Die saak oor die openbare bekendmaking van matriekuitslae in koerante en op ander openbare platforms, waarvan AfriForum deel is, word Maandag en Dinsdag (27 en 28 Oktober 2025) vanaf 10:00 in die Pretoriase Hooggeregshof aangehoor.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, het die geskil oor die openbare bekendmaking van matriekuitslae in 2022 begin toe die Departement van Basiese Onderwys (DBO) dit probeer verbied het. Die regter het AfriForum en die ander betrokke partye destyds gelyk gegee dat die bekendmaking van die uitslae in openbare belang is en dat die gebruik van eksamennommers in plaas van die matrikulante se name voldoende beskerming vir hulle privaatheid bied.

Aan die einde van verlede jaar het die Inligtingsreguleerder (IR) probeer verhoed dat die DBO die 2024-matriekuitslae bekend maak. Die IR se aansoek om ’n interdik daarteen te verkry, het egter op 8 Januarie 2025 misluk toe regter Ronèl Tolmay in die Pretoriase Hooggeregshof uitspraak ten gunste van die publikasie daarvan gelewer het. ’n Bevel is toe uitgereik dat die uitslae wel gepubliseer moet word. Hierdie bevel is steeds geldig en die DBO voer daarom aan dat dit geen ander keuse het as om die IR se instruksie om publikasie van die uitslae te weerhou, teen te staan nie.

Die saak in Januarie het egter nét oor die interdik gehandel, en nie die meriete van die saak nie. In die hofsaak wat Maandag ’n aanvang neem en uit drie aansoeke bestaan wat saamgevoeg is, sal die geldigheid al dan nie van die IR se direktief dat die uitslae nie gepubliseer mag word nie, nou beredeneer word. AfriForum is een van die partye wat ten gunste van die openbare bekendmaking is.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf