Só is regte van Suid-Afrikaanse minderheidsgroepe in 2025 geskend, wys jongste AfriForum-verslag
Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag die jongste Die wêreld moet weet-verslag tydens ’n mediakonferensie by sy hoofkantoor in Centurion vrygestel. Hierdie verslag dokumenteer breedvoerig hoe Afrikaners en ander minderhede in Suid-Afrika geteiken, as sondebokke uitgekryt, uitgesluit, vermoor en teen gediskrimineer word. Elke stelling gaan boonop gepaard met ’n bron. AfriForum het soortgelyke verslae in 2020 en 2022 vrygestel.
AfriForum se verslag wys hoe die menseregtesituasie in Suid-Afrika, veral rakende minderheidsregte, in 2025 verder versleg het. Dit beklemtoon hoe die regering se rassediskriminerende beleide in aantal en erns toeneem; hoe private eiendomsregte toenemend in gedrang is; hoe aanhitsing van geweld en rassehaat teen minderheidsgroepe deur magtige politici eskaleer; hoe kritici teen die regering onderworpe is aan intimidasie en ondersoek; en hoe minderheidsgroepe se erfenis en -onderwys geteiken, aangeval en gemarginaliseer word.
AfriForum gaan ook die verslag aan die ambassades van al die G20-lande oorhandig om hulle in te lig oor hoe die regte van minderheidsgroepe, in die einste land wat hulle vir die 2025 G20-beraad besoek, geskend word. AfriForum sal ook die bevindinge van die verslag later vandeesmaand by die Verenigde Nasies se jaarlikse Forum oor Minderheidskwessies voorlê, asook dit aan verskeie invloedryke individue, instellings en organisasies regoor die Europese Unie oorhandig. Die Malema-dossier, wat in September vanjaar gepubliseer is, sal ook saam met Die wêreld moet weet-verslag versprei word.
Volgens Ernst van Zyl, hoof van Openbare Betrekkinge by AfriForum, is hierdie verslag ’n direkte teenvoeter vir die voortgesette ontkenning, sensuur en onderdrukkingstaktieke van die ANC-geleide Suid-Afrikaanse regering en sy spreekbuise in 2025. “Die waarheid is ’n snaakse ding, hoe meer jy dit probeer onderdruk, hoe meer lek dit uit,” sê Van Zyl voorts.
“Die verskil tussen AfriForum en die ANC-geleide Suid-Afrikaanse regering is dat terwyl die regering snags wakker lê en dink aan maniere om die waarheid te verdoesel, lê AfriForum snags wakker en dink aan meer doeltreffende maniere om die waarheid te openbaar. Ons het die publiek nodig om die verslag wyd en syd te deel,” sluit Van Zyl af.
AfriForum se Die wêreld moet weet-verslag kan by www.diewereldmoetweet.co.za afgelaai word.



