Spesiale verjaarsdaggeskenk van AfriForum wag môre op Oom Paul op Kerkplein
AfriForum gaan môre die 200ste herdenking van Paul Kruger se geboorte op 10 Oktober 1825 herdenk deur onder meer die beveiliging van die Kruger-monument op Kerkplein in die Pretoriase middestad te verbeter.
Hierdie inisiatief volg nadat vandale weer in September vanjaar van die standbeelde wat deel van die monument uitmaak, ernstig beskadig het. ’n Geweerloop en ’n skoen van twee van die Boerekrygerbeelde aan die voet van die Kruger-standbeeld is afgebreek. Omdat die veiligheidsheining rondom die monument ook beskadig is, was AfriForum bekommerd oor die onmiddellike veiligheid daarvan.
Na afloop van produktiewe gesprekke met verteenwoordigers van die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit is ooreengekom dat die omheining môre herstel en versterk sal word.
Verteenwoordigers en ’n buurtspan van AfriForum beplan om môre vanaf 10:00 op Kerkplein te wees om die beskadigde omheining te herstel en te versterk.
AfriForum beklemtoon dat dit noodsaaklik is dat gemeenskappe verantwoordelikheid vir die beskerming van hul erfenisbakens moet aanvaar. “Kruger is ’n simbool van die stryd teen Britse imperialisme en ’n voorbeeld van samewerking tussen Afrikaners en ander gemeenskappe. Dit is gepas om op sy geboortedag ook hierdie aksie te onderneem om die monument te beveilig en terselfdertyd huidige geslagte hiervan bewus te maak,” meen Bailey.
Gesprekke tussen belanghebbendes oor die toekomstige bewaring van die monument en beelde duur nog voort.
In aansluiting hierby is AfriForum ook môre betrokke by ’n kranslegging by Paul Kruger se graf in die Heldeakker in Pretoria, die onthulling van die Kruger-standbeeld in Orania en aksies in Mpumalanga ter behoud van die Krugerwildtuin se naam.



