Swellendammers toegerus om te help tydens rampe
Die AfriForum-tak in Swellendam het op 18 Oktober omvattende rampbestuursopleiding aangebied waaraan 48 Swellendammers deelgeneem het. Die deelnemers was onder meer verteenwoordigers van AfriForum, die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), plaaslike wetstoepassers, munisipale en provinsiale verkeersafdelings, die Theewaterskloof Plaaslike Munisipaliteit en die plaaslike brandweer.
Die opleiding het gefokus op die beginsels van doeltreffende rampbestuur, noodreaksie en gemeenskapsamewerking in tye van krisis. Hierdie inisiatief vorm deel van AfriForum se strewe om gemeenskappe te bemagtig om selfstandig, voorbereid en veerkragtig te wees wanneer rampe ontstaan.
Die Swellendam-tak is al vir jare aktief betrokke by die beveiliging van die dorp en het ’n bewese rekord van suksesvolle gemeenskapsprojekte. Die tak se buurtwag werk daagliks nou saam met die SAPD en plaaslike wetstoepassingsdienste om misdaad te bekamp, en was instrumenteel in die beskerming van die dorp tydens die onluste oor dienslewering van 2023. Hierdie samewerking tussen rolspelers bly ’n voorbeeld van hoe gemeenskappe en instellings saam verantwoordelikheid kan neem vir veiligheid en orde.
“Die rampbestuuropleiding het nie net waardevolle kennis aan die AfriForum-lede gebied nie, maar het ook die grondslag gelê vir die stigting van ’n toegewyde rampbestuurspan. Dit is bemoedigend om te sien hoe gemeenskapslede hulself beskikbaar stel om verantwoordelikheid te neem en hul gemeenskappe veiliger te maak,” sê Tarien Cooks, AfriForum se rampbestuurspesialis, wat die opleiding aangebied het.
AfriForum se Swellendam-tak bedank alle deelnemers vir hul samewerking en betrokkenheid, en nooi inwoners uit om by AfriForum aan te sluit om deel te word van ’n netwerk wat proaktief werk aan die veiligheid en weerbaarheid van hul gemeenskappe.
Sluit vandag nog aan by die Swellendam-tak, en help hulle om meer te doen. Stuur ’n e-pos na marthinus.erasmus@afriforum.co.za, of skakel vir Erasmus by 081 216 9602.



