The Jungle Book swaai Pretoria toe!
Ná ’n uiters suksesvolle debuutseisoen in Johannesburg vanjaar, kom maak The Jungle Book van VR Theatrical vroeg volgende jaar ’n draai in Pretorianers se gunsteling-teater. Hierdie prettige en verbeeldingryke verhoogverwerking van Rudyard Kipling se tydlose verhaal sal van 25 Maart tot 5 April 2026 op die AfriForum Teater-verhoog wees.
Gehore kan ’n volledig meeslepende teaterervaring verwag van die oomblik wat hulle die teater betree. Met ’n kreatiewe, stedelik-geïnspireerde stel- en kostuumontwerp, dinamiese choreografie en polsende oorspronklike musiek, lewer hierdie produksie ’n vars, kontemporêre herverbeelding van Kipling se geliefde verhaal.
The Jungle Book, verwerk en geregisseer deur Daniel Butcher-Geddes, met oorspronklike musiek deur Wessel Odendaal, bevat ’n treffend moderne estetika – pittig, gestileerd en vernuwend oorspronklik – terwyl dit getrou bly aan die hart van die storie. Hierdie gesinsvriendelike produksie van 75 minute lank volg Mowgli (vertolk deur Noluthando Mathebula) se reis van selfontdekking, vriendskap en moed met geliefde karakters soos Bagheera (vertolk deur Siyamthanda Makakane), Baloo (vertolk deur Grant Towers) en die vreesaanjaende Shere Khan (vertolk deur Brett De Groot).
Die res van die rolverdeling sluit Jordyn Schaefer as Kaa en John Tsenoli as Akela en King Louis in.
Met sy hoë produksiewaardes, vindingryke storievertelling en emosionele diepte, beloof The Jungle Book ’n onvergeetlike avontuur vir gehore van vyf jaar en ouer. Dit is ’n moet-sien vir gesinne wat hierdie klassieke storie op ’n gewaagde nuwe manier wil ervaar.
“Dit is vir AfriForum Teater altyd ’n voorreg om kwaliteit produksies op ons planke te verwelkom. The Jungle Book is een van sy soort: ’n bekende storie in ’n nuwe baadjie wat ’n vars perspektief bied op hierdie geliefde verhaal. Ons sien uit om te ervaar hoe gehore meegevoer gaan word deur die pragtige stel, uitmuntende karakters en oorspronklike nuwe musiek,” sê Marné Jooste, bemarking-en-kommunikasiebeampte vir AfriForum Teater.
Kaartjies is nou beskikbaar by www.afriforumteater.co.za.





