Uitspraak voorbehou in privaat brandweersaak in Tshwane-metro
Uitspraak oor die wettigheid van privaat brandweerdienste in die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit is vandag in die Pretoriase Hooggeregshof voorbehou. AfriForum se regspan staan die Sinoville-brandbestrydingsvereniging (SBBV) by in ’n regsgeding wat die metro in September verlede jaar begin het om privaat brandweerdienste wat in die metro funksioneer, onwettig te laat verklaar.
Die Tshwane-metro se regspan volhou dat privaat brandweerdienste onwettig is, maar AfriForum voer aan dat geen wet die bestaan of werking van privaat brandweerdienste verbied nie. Regter J. Davis het tydens vandag se hofsitting benadruk dat die saak van uiterse belang is, daarom word uitspraak voorbehou.
“Dit is volgens AfriForum onverantwoordelik om privaat brandweerdienste onwettig te laat verklaar, veral omdat dié dienste broodnodige hulp in tye van nood verleen. In plaas daarvan om die wettigheid van hierdie dienste in ’n uitgerekte hofgeding te beveg, behoort die Tshwane-metro eerder hierdie addisionele kapasiteit – in die belang van inwoners – te verwelkom,” sê Tarien Cooks, rampbestuurspesialis by AfriForum.
JP Botha, stigterslid van SBBV, sê die vereniging het juis ontstaan omdat die Tshwane-metro se brandweer nie altyd die diens kon lewer wat van hulle verwag is nie. “SBBV het al menige voorvalle suksesvol hanteer en vul ’n kritieke leemte in die noorde van Pretoria. Wat SBBV besonders maak, is dat dit heeltemal uit vrywilligers bestaan – mans en vroue wat as brandbestryders opgelei is en hul tyd en kundigheid aanbied om hul gemeenskap te beskerm.”
Regter Davis het reeds vroeër vanjaar ’n kostebevel in ’n interlokulêre beslissing toegestaan, wat aangewend sal word om privaat en burgerlike brandbestrydingsvermoëns in die metro te versterk.
“Wanneer die staat nie sy basiese verantwoordelikheid nakom nie, staan gemeenskappe op om hulself te help. Privaat en burgerlike brandweerdienste red lewens. Dit is nie ’n bedreiging vir die Tshwane-metro nie, maar ’n noodsaaklikheid,” voeg Cooks by.
AfriForum sal voortgaan om hom vir ’n billike, inklusiewe en doeltreffende benadering tot brandveiligheid te beywer.



