Uitspraak voorbehou in saak oor SAMRK-magte

Klankgreep: Louis Boshoff (Afrikaans)
Klankgreep: Louis Boshoff (Engels)

AfriForum se regspan het vandag in die Konstitusionele Hof argumente gelewer en onduidelikhede uitgeklaar oor die beperkte aard van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) se magte en bevoegdhede. Uitspraak is voorbehou.

Die SAMRK voer in hierdie saak aan dat sy aanbevelings bindend is en dieselfde regswerking het as byvoorbeeld ’n hofuitspraak. AfriForum huldig egter die standpunt dat die SAMRK, in elke geval wat die kommissie ondersoek, eerder samewerkende optrede onder die betrokke partye moet bewerkstellig.

Verder moet die kommissie se aanbevelings slegs as bindend beskou word wanneer dit deur ’n hof afgedwing word. Dié argument berus op artikel 184(2)(b) van die Grondwet waarvolgens die MRK stappe mag doen “ten einde gepaste herstel te verseker waar menseregte geskend is”. Die Grondwet laat egter nie die MRK toe om bindende direktiewe uit te vaardig nie.

Die burgerregteorganisasie is toegelaat as vriend van die hof (amicus curiae)in ’n saak tussen die SAMRK en AgroData. Die SAMRK appelleer ’n uitspraak van die Hoogste Hof van Appèl waarin daar bevestig is dat bevindinge van die kommissie slegs afdwingbaar is wanneer dit deur ’n hofbevel bekragtig is. Volgens AfriForum sal hierdie saak ’n belangrike presedent skep rakende toekomstige optrede van die SAMRK.

Dié saak spruit uit ’n bevinding van die SAMRK dat grondbesetters op die plaas De Doorn Hoek gratis toegang tot boorgatwater gegee moet word. Die SAMRK het in die Mpumalanga Hooggeregshof in Mbombela (Nelspruit) aangevoer dat hul bevinding afdwingbaar is, maar die hof het in AgroData (die grondeienaar) se guns beslis dat die bevinding nie afdwingbaar is nie. Die SAMRK het hom daarna tot die Hoogste Hof van Appèl gewend om die uitspraak om te keer. AfriForum het in die Hoogste Hof van Appèl ook as amicus curiae opgetree en AgroData het nie geopponeer nie. Die Hoogste Hof van Appèl het in AgroData se guns beslis en swaar gesteun op die argumente wat deur AfriForum se regspan gelewer is. Die SAMRK het hom egter daarna tot die Konstitusionele Hof gewend om die uitspraak te betwis.

Volgens Louis Boshoff, veldtogbeampte by AfriForum, is die organisasie vasbeslote om die grondwetlike orde te verdedig. “Ons regspan het die saak duidelik gestel en begrond in verskeie vorige uitsprake van die Konstitusionele Hof. Die grondwet verleen eenvoudig nie aan die SAMRK die mag om te hiet en gebied sonder dat die hof iets beveel het nie,” verduidelik Boshoff.

Die SAMRK se bevindinge het oor die afgelope twee dekades dikwels gebuk gegaan onder aantygings van politieke en rassevooroordeel en AfriForum meen dit wys hoe belangrik dit is om te verseker dat die kommissie nie vir homself meer magte toeëien nie.

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik