|

Uitstel van Khampepe-kommissie se sittings teleurstellend – AfriForum

Klankgreep: Kallie Kriel (Afrikaans)
Klankgreep: Kallie Kriel (Engels)

Die burgerregteorganisasie AfriForum het sy teleurstelling uitgespreek ná die eerste sitting van die Khampepe-kommissie wat vandag in Pretoria sou begin, uitgestel is en die families van minstens sewe slagoffers van ANC-terreuraanvalle nou nog langer gaan moet wag op antwoorde. AfriForum verteenwoordig die familie van Jaap van der Merwe wat in 1978 naby die Botswana-grens deur ANC-insypelaars vermoor is, en het in 2007 ’n mandaat van Dirk van Eck ontvang om toe te sien dat geregtigheid geskied vir die dood van vrou, twee van sy kinders en drie familievriende, wat 1985 in ’n ANC-landmynaanval dood is. Van Eck is intussen oorlede.

Die Khampepe-kommissie is tot stand gebring ná druk deur veral die families van die Cradock-4 om antwoorde te vind vir die redes vir die vertraging in die ondersoek en vervolging van misdade wat deur die Waarheids-en-versoeningskommissie (WVK) geïdentifiseer is. 

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, wat die voorleggings namens die Van der Merwe-familie en Van Eck by die kommissie ingedien het, verdien die families van die slagoffers van die ANC se landmyn- en bomaanvalle en moorde op burgerlikes, nes die Cradock-4 se families, ook antwoorde. Kriel hou vol dat die kommissie onder meer antwoorde moet verskaf oor waarom geen ANC-leier vervolg is vir dié misdade nie.

Van der Merwe se familie het AfriForum onlangs amptelik versoek om antwoorde te vind oor moontlike politieke inmenging wat die vervolging van ’n geïdentifiseer verdagte in dié saak en destydse ANC-leiers verhoed het. Van der Merwe se liggaam is nooit gevind nie. Hoewel die een oorlewende verdagte in dié moord, wat destyds die skuilnaam John Msibi gebruik het, nie amnestie ontvang het nie en sy identiteit aan die owerhede bekend is, is hy nooit vervolg nie. Hy is boonop later onder die ANC-regering in diens van die staat se veiligheidsdienste geneem.

AfriForum tree kragtens Van Eck se 2007-versoek in belang van die Van Eck-familie op by die kommissie. ’n ANC-landmyn het tot die dood van Van Eck se vrou, Kobie, en hul kinders, Nelmarie (8) en Nasie (2) sowel as Marie Denysschen en twee van haar kleinkinders, Carla (9) en Kobus (3) gelei. Geen ANC-lede is nog in verband met dié moorde vervolg nie.

“Hierdie families verdien óók antwoorde. Ten spyte daarvan dat die WVK die ANC aan growwe menseregteskendings skuldig bevind het, die party verantwoordelikheid aanvaar het vir die Van Eck-moorde en die WVK Van der Merwe se moord as ANC-handewerk gekategoriseer het, is geen ANC-lid al vir dié misdade vervolg nie. Dit is al 45 jaar sedert Van der Merwe wreedaardig vermoor is, en 40 jaar sedert die landmynmoord op die Van Ecks en Denysschens, en om vandag te moet hoor dat die kommissie uitgestel is, laat families selfs meer verbitterd en teleurgesteld,” beklemtoon Kriel.

AfriForum het in sy voorlegging die kommissie versoek om:

  • sy ondersoek uit te brei om politieke inmenging te ondersoek wat veroorsaak het dat senior ANC-leiers nie vervolg is nie;
  • te verseker dat aanbevelings van die kommissie ook die belange van die families van slagoffers van ANC-terreur insluit;
  • aan te beveel dat die beginsel van gelykheid voor die reg gehandhaaf word en dat, sou voormalige lede van die veiligheidsmagte vervolg word, ANC-leiers wat verantwoordelik was vir misdade en nie amnestie ontvang het nie, ook vervolg word.

Die kommissie se sittings is nou uitgestel tot 26 November.

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik