|

Van netheid tot veiligheid: AfriForum maak ’n verskil in Bloemfontein

AfriForum se Bloemfontein-tak het die afgelope maand bewys waarom samewerking en daadwerklike betrokkenheid deur die gemeenskap, die sleutel is tot ’n beter stad. Dié AfriForum-span se werk was in September oral sigbaar: van die instandhouding van parke tot die verwydering van vullis, die aanplant van bome en die versterking van veiligheidstrukture.

Die AfriForum Vullisverwyderingspan het gedurende September altesaam 1 745 km afgelê om strate, woonbuurte en openbare ruimtes in Bloemfontein skoon te hou. In totaal is ongeveer 50 ton vullis verwyder. Hierdie prestasie beklemtoon AfriForum se volgehoue verbintenis tot ’n skoner, veiliger en gesonder leefomgewing vir inwoners.

Die AfriForum-buurtspan het met behulp van die AfriForum-trekker ook parke in Heuwelsig en Langenhovenpark netjies gesny en in stand gehou, asook die park in Pellissier en die Ou Presidensie as deel van Erfenisbeskerming. Hierdie inisiatief vorm deel van AfriForum se volhoubare groenruimteprojek wat daarop gemik is om woonbuurte te verfraai en veilige openbare ruimtes vir gesinne te skep.

Verder het ’n gesamentlike skoonmaakaksie plaasgevind waar AfriForum Sakenetwerk, AfriForum Buurtwag, AfriForum Buurtspan, AfriForum Suidelike Brandspan en AfriForum Vullisverwydering saamgewerk het om parke en strate in Bloemfontein te herstel, te verfraai en op te ruim. Hierdie spanpoging het getoon dat gemeenskappe wat self verantwoordelikheid neem, die grootste verskil maak.

Die betrokkenheid van AfriForum Sektor 3 Buurtwag, in samewerking met die AfriForum911 Reaksie-Eenheid en die AfriForum Jeug, by die Vat Vlam-fees wat by Jim Fouché Hoërskool plaasgevind het, was ook ’n groot hoogtepunt in September. Die spanne het die veiligheid van die byeenkoms behartig en toegesien dat die fees sonder voorval verloop.

Die AfriForum Gemeenskapsveiligheid Beheerkamer, in samewerking met die AfriForum911 Reaksie-Eenheid, het gedurende September beduidende aktiwiteit ervaar. Die jongste verslag toon dat reaksievoertuie 82 keer geaktiveer is en 32 patrollies uitgevoer is, wat ’n merkbare toename in sigbaarheid in die stad verteenwoordig. Daar is drie arrestasies gemaak en drie gevalle van diefstal aangemeld, terwyl 16 insidente, wat telefonies ontvang is en 68 wat deur WhatsApp aangemeld is, suksesvol hanteer is. Vier voorvalle waar mediese bystand benodig was, is ook hanteer.

“Die AfriForum-tak in Bloemfontein doen nie net wat nodig is nie – hulle doen meer as wat daar van hulle verwag word en hulle doen dit met trots, toewyding en hart,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein. “Ons projekte, van grassny tot vullisverwydering en die beveiliging van ons gemeenskappe, wys wat moontlik is wanneer inwoners saamstaan. Ons doen dit nie vir erkenning nie, maar omdat elke inwoner ’n reg het op ’n leefbare, veilige en mooi omgewing.”

AfriForum se Bloemfontein-tak doen ’n beroep op inwoners om betrokke te raak by die groeiende beweging vir volhoubare dienslewering. Deur aan te sluit, bou inwoners self aan ’n stad waaraan hulle trots kan wees. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf