Van padversperrings tot motorongelukke; AfriForum se Kempton Park-buurtwagte help op dié tonele
AfriForum se Kempton Park-buurtwagte het die afgelope naweek op ses tonele gehelp – van ’n boom wat omgeval en die pad versper het tot motorongelukke en ’n aanval op ’n lid van die gemeenskap. AfriForum het in samewerking met verskeie rolspelers op dié tonele gereageer.
Die AfriForum-buurtwagte is op 12 Oktober na die R21-oprit by Voortrekker-weg ontbied waar ses mans ’n gemeenskapslid, wat besig was om ’n swaar motorvoertuig te herstel, aangeval het. Die slagoffer is met kneusplekke en ’n hou teen die kop hospitaal toe geneem. Buurtwagte het in samewerking met die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum en sekuriteitsmaatskappye die gebied gefynkam maar die verdagtes het reeds gevlug.
Dieselfde dag nog het AfriForum-buurtwagte ’n veiligheidspatrollie by die Zuurfontein-begraafplaas uitgevoer om te verseker dat gemeenskapslede hul oorlede geliefdes in ’n veilige omgewing kan besoek. In totaal het 14 voertuie aan die patrollie deelgeneem terwyl 38 mense die begraafplaas besoek het.
Intussen was AfriForum se buurtwagte op 11 Oktober aktief op die hoek van Beukes- en Stephanusweg waar ’n boom omgeval en die pad versper het. Die buurtwagte het die pad heeltemal afgebaken om veiligheid te verseker en die gemeenskap daarvan ingelig. Die munisipaliteit is in kennis gestel, wat die boom die volgende dag kom verwyder het.
Op dieselfde dag het die AfriForum-buurtwagte op ’n aantal motorongelukke gereageer, waarvan die een in samewerking met P&C-veiligheidsdienste, Mamba-sekuriteit en First Help by die Pomona-afrit. Niemand is beseer nie. Die toneel is skoongemaak en die voertuig is verwyder. Die buurtwag is ook ontbied na ’n ongelukstoneel in 3de Laan, Bredell, waarby ’n swaar motorvoertuig betrokke was. Een van die voertuie het van die toneel af weggery en word steeds gesoek. Buurtwagte het met verkeersbeheer gehelp en die toneel beveilig. Die Gauteng-nooddienste het die gewonde pasiënt ondersoek en na die naaste staatshospitaal vervoer. Verder het die buurtwagte ook gehelp op ’n ongelukstoneel op die R21 in die rigting van Atlas-weg. Die buurtwagte het die toneel beveilig, beligting verskaf en verkeer herlei. Die voertuig is verwyder en geen ernstige beserings is aangemeld nie.
“Die gemeenskap se veiligheid bly ’n top-prioriteit vir AfriForum en die Kempton Park-buurtwagte het dit bewys,” sê Nadia Olckers, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.
Besoek www.wordlid.co.za of kontak Jan Vermaak by 082 605 1311 om by AfriForum se Kempton Park-tak betrokke te raak.






