Veiligheid en netheid Oos-Rand-takke se prioriteit
AfriForum se takke aan die Oos-Rand, waar onder Alberton, Benoni, Boksburg, Brakpan, Edenvale, Germiston, Kemptonpark en Springs, was behoorlik bedrywig gedurende Oktober. Van skoonmaakaksies as deel van die organisasie se #OnsDorp-projek tot veiligheidsinisiatiewe, hierdie takke weet duidelik nie van stilsit nie.
Hierdie takke het almal deelgeneem aan AfriForum se nasionale massapatrollie wat van 17 Oktober tot 18 Oktober plaasgevind het. Tydens hierdie patrollie het 174 buurtwaglede en ander veiligheidsrolspelers ’n totaal van 13 392 km afgelê om hul gemeenskappe te beveilig.
Gedurende Oktober het hierdie takke ook hul deel gedoen om hul omgewings skoon en netjies te kry as deel van die organisasie se jaarlikse #OnsDorp-projek. Takke het gras gesny, tuinvullis verwyder en vullis opgetel.
Volgens Nadia Olckers, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand, is die doel van die #OnsDorp-projek om bewusmaking te kweek oor dit wat AfriForum en inwoners saam kan vermag wanneer selfdoenaksies aangepak word.
“Dit is belangrik om proaktief op te tree en hierdie tipe projekte in ons gemeenskappe self aan te pak in plaas daarvan om te wag vir iemand anders om dit te doen. Dit is al hoe ons absolute ineenstorting kan verhoed,” sê Olckers.
Die takke het gedurende Oktober die volgende verrig:
Alberton
AfriForum se Alberton-buurtwag het benewens die massapatrollie op 17 en 18 Oktober ook gedurende die maand self patrollies gery om sigbaarheid te verhoog.
“Alberton het ’n deurgangsroete geword vir misdadigers en juis daarom het ons besluit om ’n samewerkingsooreenkoms met privaat sekuriteitsmaatskappye in die omgewing aan te gaan. Hierdie samewerkingsooreenkoms sluit die monitering van LPR-kameras in om sodoende misdadigers hopelik vas te trek voordat hulle nog die dorp kan binnekom,” sê Christopher Trevarthen, leier van AfriForum se Alberton-buurtwag.
Benoni
Benewens hul deelname aan die nasionale massapatrollie op 17 en 18 Oktober het AfriForum se Benoni-tak ook op 19 Oktober patrollies gery aangesien misdaad in sekere areas toeneem.
Die tak het op 11 Oktober saam met die Sektor 3 GPF ’n aksie aangepak waartydens hulle onkruid tussen tussen Trig- en Groot Noordweg – onder meer by Kirchner-, Mollison-, en Bodenstraat – gif gespuit het.
Boksburg
Die Boksburg-tak het op 25 Oktober ’n skoonmaakaksie saam met gemeenskapslede aangepak agter die Spar in Riggweg. Die tak het onder meer gras gesny en vullis opgetel.
Brakpan
Brakpanners het ’n sug van verligting geslaak toe Plastic City ná 17 jaar verwyder is. AfriForum se Brakpan-buurtwag het hier saam met verskeie rolspelers insluitend die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit gewerk om dié informele nedersetting te verwyder.
Plastic City was vir 17 jaar ’n sentrale punt vir misdadigheid en gesondheidsprobleme wat veral ook ’n impak op ondernemings en inwoners van Brakpan en Benoni gehad het. Dié aksie het op 18 September begin en is teen 11 Oktober afgehandel.
Edenvale
AfriForum se Edenvale-tak het op 4 Oktober op die hoek van Terrace- en Andries Pretorius-weg vullis en tuinvullis verwyder ná ’n gemeenskapslid hulle daaroor genader het.
Germiston
Die Germiston-buurtwag het ook deelgeneem aan die massapatrollie, terwyl hulle steeds deur die loop van die maand hul eie patrollies gery het.
Onwettige myners, dwelmhandelaars en onwettige inwoners bly ’n reuseprobleem in Germiston, daarom het dié buurtwag verskeie areas soos Dinwiddie, Lambton, Elsburg, Elspark, Primrose, Klopperpark en Tedstoneville gepatrolleer om sigbaarheid te verhoog.
Dié buurtwag het ook hulp verleen by ongelukstonele en tydens van die plaaslike Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se operasies. Die buurtwag het onder meer gehelp om plakkers by Graceland Elspark te verwyder, die pad afgesper en ligte op die toneel verskaf ná ’n skietvoorval in Dinwiddie en gehelp op ’n ongelukstoneel in Dinwiddie.
Kemptonpark
Die AfriForum-buurtwag in Kemptonpark het gehelp om ’n vermiste persoon op te spoor. Die tak het Donderdag, 16 Oktober omstreeks 21:30 ’n versoek om hulp ontvang rakende ’n vermiste vrou met ’n geskiedenis van geestesgesondheidsprobleme. Die Kemptonpark-tak het 18 lede ingespan en ’n soektog van stapel gestuur. Die span het saam met 24/7 Security Services, VUMA Cam en die vermiste vrou se dogter gewerk en ANPR-kameradata en selfoonopsporingsinligting ingespan om haar op te spoor. Sy is om 23:17 gevind en die plaaslike SAPD en ’n traumaberader was op die toneel om verdere hulp te verleen.
Die buurtwag het ook op 12 Oktober patrollie gery by die Zuurfontein-begraafplaas sodat 38 gemeenskapslede hul geliefdes veilig kon besoek.
Springs
AfriForum se Springs-tak het op 26 Oktober lang gras by ’n oop stuk grond in Ovaalstraat en Bigg-laan, gesny. Hierdie area kon moontlik as wegkruipplek vir misdadigers dien.



