|

Vennootskap gee opkomende boer hupstoot op haar reis na kommersialisering

Barend Uys (Afrikaans)

AfriForum en Saai het kragte saamgesnoer met kgosatsana (prinses) Gaongalelwe Moiloa, medestigter van die Bahurutshe Ba Ga Moiloa-stigting, op haar reis van opkomende na kommersiële boer. ’n Sonaangedrewe drupbesproeiingstelsel is geïnstalleer om die produktiwiteit, lewensvatbaarheid en winsgewendheid van haar boerdery te verbeter. Kgosatsana Gaongalelwe het reeds in 2024 ’n suksesvolle aartappeloes van 200 sakke gelewer en het aartappels, tamaties, soetrissies, groenbone en rooiuie tydens die huidige plantsiklus aangeplant. Sy plant ook vir ’n tweede keer aartappelproewe vir die Landbounavorsingsraad. Sy boer op ’n gedeelte van die plaas Jagersfontein in die Mafikeng-distrik as begunstigde van die Batsweneng Gemeenskaplike Eiendomsvereniging, wat die plaas besit.

“My droom is om tot ’n volwaardige kommersiële boer te groei sodat ek na my familie kan omsien en ook tot my gemeenskap kan bydra deur werk te skep. Ek is baie dankbaar en opgewonde oor die positiewe impak wat die besproeiingstelsel op my boerdery se winsgewendheid gaan maak. Die Bahurutshe Ba Ga Moiloa-stigting help vroue om groentetuine by hul huise te begin sodat hulle hulself en hul kinders uit die tuin kan voed en ook aan die gemeenskap kan verkoop om só hul lewensomstandighede te verbeter,” sê kgosatsana Gaongalelwe, medestigter van die Bahurutshe Ba Ga Moiloa-stigting.

Kgosatsana (prinses) Gaongalelwe Moiloa (English)
Kgosatsana (prinses) Gaongalelwe Moiloa (Setswana)

“Ons land en streek het meer kommersiële boere nodig. Kommersialisering van opkomende boere dra nie net by om voedselsekerheid te verbeter nie, maar skep ook welvaart wat die enigste volhoubare manier is om armoede aan te spreek. Dit is daarom vir Saai ’n voorreg om deel van hierdie gesamentlike kommersialisering- en meganiseringsinisiatief te wees,” sê dr Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai.

Theo de Jager (Afrikaans)

“Die vestiging van goeie verhoudings en samewerking tussen kultuurgemeenskappe en die versterking van gemeenskapselfstandigheid is noodsaaklik vir die voorspoedige en vreedsame naasbestaan van kultuurgemeenskappe in die land. Die mooi toekoms waaroor ons vir ons kinders droom kan verwesenlik word deur die daarstelling van voetsoolvlakvennootskappe soos hierdie. AfriForum is dankbaar, veral teenoor ons lede, dat ons die vermoë het om by ’n inisiatief met soveel potensiaal betrokke te wees. Dit is vir AfriForum ’n voorreg om deel van die Kultuurgemeenskappe-netwerk te wees wat verskillende kultuurgemeenskappe in staat stel om gemeenskaplike belang te vind en saam te werk met die oog op ’n voorspoedige toekoms vir ons almal,” sê Barend Uys, hoof van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum.

Kgosatsana Gaongalelwe is ’n direkte afstammeling van Kgosi Moiloa II, wat die leier van die Bahurutshe Ba Ga Moiloa van 1845 tot 1875 was en deurgaans goeie verhoudinge met die Afrikaners van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) gehandhaaf het. Kgosi Moiloa II en sy Bahurutshe was naas ander volke soos die Barolong, Bataung, Batlhaping, Bafokeng en Griekwas ook in die 1830’s ’n bondgenoot van die Voortrekkers tydens die konflik met die Ndebele van Mzilikazi.

“Die handel en bondgenootskap tussen ons voorouers het ’n belangrike rol gespeel om die voortbestaan van ons gemeenskappe destyds te verseker. Deur hul harde werk en opofferings oor geslagte heen is ons vandag hier. Ons het vandag weer die geleentheid om te kies om saam te werk en vennootskappe te smee om ’n goeie toekoms vir die kinders van die verskillende kultuurgemeenskappe in die land te verseker,” sluit kgosantsana Gaongalelwe af.

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners