“Waarom is geen ANC-lid vervolg vir die moord op my pa nie en waar is sy liggaam?” vra seun van onskuldige burgerlike wat in 1978 deur die ANC vermoor is
Die familie van Jaap van der Merwe, ’n burgerlike wat in 1978 naby die Botswana-grens deur ANC-insypelaars vermoor is, het AfriForum amptelik versoek om antwoorde te vind oor moontlike politieke inmenging wat die vervolging van ’n geïdentifiseer verdagte in dié saak en destydse ANC-leiers verhoed het. Van der Merwe se liggaam is nooit gevind nie.
Die een oorlewende verdagte in die saak wat destyds die skuilnaam John Msibi gebruik het, het nie voor die Waarheid-en-versoeningskommissie (WVK) om amnestie aansoek gedoen nie en leef steeds. Sy identiteit is bekend aan die owerhede. Ten spyte van sy beweerde betrokkenheid by die moord en die feit dat hy nie amnestie ontvang het nie, is Msibi blykbaar onder die ANC-regering deur die staat se veiligheidsdienste in diens geneem.
’n Beëdigde verklaring van Van der Merwe se seun, Cilliers, waarin hy op antwoorde en geregtigheid aandring, is ingesluit in AfriForum se voorlegging aan die Khampepe-kommissie wat môre (Maandag 10 November) in Pretoria begin. Die kommissie is tot stand gebring ná druk van onder andere die familie van die Cradock-4 en het ten doel om ondersoek in te stel na die redes waarom individue wat verantwoordelik was vir politieke misdade tydens die apartheidsjare en nie amnestie gekry het nie, nie vervolg is nie.
Van der Merwe is op 1 November 1978 vermoor toe hy ’n saamrygeleentheid wou bied aan ANC-insypelaars wat voorgegee het dat hulle rylopers is. Die een ANC-insypelaar het Van der Merwe sonder rede in die rug geskiet en nadat hy vooroor geval het hom omgedraai en in die gesig geskiet.
Dié gebeure en die verdagtes se name is later deur ’n ANC-lid bevestig. Die teleskoop van Van der Merwe se jaggeweer, wat tydens die aanval gesteel is, is ook later in ’n ANC-wapenopslagplek gevind. Die WVK het die moord as die handewerk van ANC-lede gekategoriseer.
Van der Merwe se weduwee, Susan, wat drie jaar gelede oorlede is, en die egpaar se vyf kinders kon nooit berusting vind nie omdat daar nooit ’n begrafnis gehou kon word nie en geen geregtigheid geskied het nie.
Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het die kommissie namens die organisasie in ’n beëdigde verklaring versoek om, in terme van die beginsel van gelykheid voor die reg, toe te sien dat alle families van slagoffers wat in ANC-terreuraanvalle vermoor is, ook antwoorde kry oor waarom geen ANC-lid of -leier vervolg is vir hul terreurdade nie.
Kriel het ook die kommissie spesifiek versoek om antwoorde te kry oor waarom geen ANC-leier vervolg is vir die moord op Dirk van Eck se vrou, Kobie, en hul twee kinders, Nelmarie (8) en Nasie (2), nie. Kobie, Nelmarie en Nasie is in Desember 1985 dood in ’n ANC-landmynaanval. Van Eck het AfriForum reeds in 2007 versoek om te help toesien dat geregtigheid vir dié moorde geskied. Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) fokus egter tans slegs op die vervolging van lede van die vorige bedeling se veiligheidsmagte en weier om ANC-lede vir hul wandade te vervolg.
Die Van der Merwe-familie het aan adv. Gerrie Nel en sy span by AfriForum se privaatvervolgingseenheid amptelike mandaat gegee om druk toe te pas vir die instelling van ’n geregtelike doodsondersoek na die moord op Van der Merwe, soortgelyk aan die onlangse geregtelike doodsondersoeke na die dood van die Cradock-4 en die anti-apartheidsaktivis Ahmed Timol.
Daar is volgens Kriel klaarblyklik ’n doelbewuste versuim om ná 47 jaar nog geen geregtelike doodsondersoek te doen nie. “Die NVG se versuim is waarskynlik deel van ’n politieke motief om nie tydig, terwyl getuies en persone van belang nog leef, ’n formele geregtelike doodsondersoek te hou nie,” verduidelik hy.
Die NVG se skynbaar doelbewuste strategie om nie ook aandag te skenk aan sake waarin ANC-lede of -leiers die oortreders was nie, minag die pyn en waardigheid van die families van die slagoffers van ANC-terreurdade, meen Kriel.
“Daar is tans ’n doelbewuste poging deur die NVG en die ANC om te verseker dat slegs die misdade van voormalige veiligheidsmagte media-aandag geniet, terwyl ANC-terreurdade bloot onder die mat ingevee word. Die ANC toon disrespek en ongevoeligheid teenoor die families van slagoffers van ANC-terreurdade deurdat hulle poog om diegene wat geregtigheid vir dié families vra, se monde te snoer deur die strewe na geregtigheid as ’n daad van ‘rassisme’ af te maak. Die ANC se aanval op AfriForum hieroor in ’n mediaverklaring op 13 Oktober is ’n voorbeeld hiervan,” voeg Kriel by.
Kriel wys in sy beëdigde verklaring die Khampepe-kommissie daarop dat daar duidelike bewyse is van politieke inmenging binne die NVG om nie ANC-leiers te vervolg nie. Adv. Paul Fick SC wat voor sy aftrede in diens van die NVG was, het byvoorbeeld tydens ’n onlangse gesprek met Kriel aangedui dat hy opdrag van adv. Bulelani Ngcuka, die destydse nasionale direkteur van Openbare Vervolging (DOV), ontvang het om nie verder ondersoek in te stel na ANC-leiers se betrokkenheid by die terreurdade nie. Die dossiere is daarna sonder enige vervolging terugbesorg aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD).
Kol. Tollie Vreugdenburg, ’n afgetrede NVG-ondersoeker wat destyds betrokke was by die ondersoek na die Van der Merwe-moord, het ook aan Kriel bevestig dat adv. Chris Macadam, ’n senior lid van die NVG, geen aptyt getoon het om ANC-lede te ondersoek nie.
Adv. Vusi Pikoli, voormalige DOV, het ook in ’n eedsverklaring ter ondersteuning van die families van anti-apartheidsaktiviste se saak, aangedui dat daar politieke inmenging was om nie sake wat deur die WVK vir verdere ondersoek en vervolging na die NVG verwys is, te vervolg nie. Dit sluit sake teen ANC-leiers in.
Agtergrond
Die WVK het in sy finale verslag verklaar: “[T]he Commission found the ANC to be responsible for a range of gross human rights violations arising out of unplanned operations; the bombing of public buildings, restaurants, hotels and bars; the landmine campaign in the northern and north-eastern parts of South Africa.”
Die insypeling van ANC-lede vanaf die Botswana-grens wat tot Van der Merwe se dood gelei het, het in opdrag van senior ANC-leierskap plaasgevind. Die landmynaanvalle waaraan die WVK die ANC skuldig bevind het, het boonop gevolg op ’n besluit wat in Junie 1985 deur ANC-leiers geneem is tydens die organisasie se nasionale konferensie in Kabwe, Zambië. Hierdeur is bepaal dat die onderskeid tussen harde en sagte teikens moes verdwyn en dat terreuraanvalle ook deur middel van landmynaanvalle uitgevoer sou word as deel van die ANC se landmynveldtog, bekend as Operasie Cetshwayo.
Bogenoemde besluite en die uitvoering daarvan staan in stryd met protokol I van die Geneefse Konvensie wat uitdruklik die teiken van burgerlikes en die gebruik van metodes soos landmynaanvalle, wat nie tussen burgerlike en militêre teikens onderskei nie, verbied. Die terreuraanvalle het plaasgevind ten spyte daarvan dat die ANC reeds in 1980 hierdie protokol onderteken het.
Ná die Kabwe-konferensie was die meerderheid van die ANC se terreurdade op burgerlikes gemik. Die ANC en hul bondgenote was verantwoordelik vir honderde moorde op burgerlikes, insluitend ongeveer 700 halssnoermoorde (waardeur ’n brandende motorband om die slagoffer se nek geplaas is), sowat 400 ander lewende verbrandings en byna 250 moorde weens bomontploffings en skietvoorvalle.
Die ANC het op verskeie geleenthede heelparty van die terreurdade waarvoor hulle verantwoordelik was, vermeld in hul publikasies soos Sechaba en Mayibuye.



