Watter hof? Eenvoudige besluit hou strafbare manslagsaak vir langer as ’n jaar uit hof
Die antwoord op die eenvoudige en ongekompliseerde vraag of ’n saak van strafbare manslag in die distrikshof of die streekhof aangehoor moet word, het die amptenare van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) vir langer as ’n jaar ontduik. Nadat AfriForum se privaatvervolgingseenheid in April 2024 ingegryp het, het die NVG in Augustus verlede jaar besluit om Gareth Webster te vervolg vir die motorongeluk waarin ’n vrou en ma, Danielle van Jaarsveld, dood is, maar die saak moet egter nog op ’n hofrol geplaas word.
Die eenheid verteenwoordig Van Jaarsveld se suster, Desire Keating. Webster word van roekelose en nalatige bestuur beskuldig nadat hy met sy Audi SQ5-sportnutsvoortuig teen Van Jaarsveld se Kia-sedan drie jaar gelede (6 November 2022) gebots het.


Barry Bateman, woordvoerder van die eenheid, sê die vertragings is onaanvaarbaar. “Óf die Wes-Kaapse direkteur van Openbare Vervolging is nie in staat om só ’n eenvoudige besluit te neem nie, óf die direkteur is nie bereid om die besluit te neem nie. Hoe dit ook al sy, dit onthul die omvang van die ineenstorting van die strafregstelsel en die onbevoegdheid van NVG-amptenare wat veronderstel is om geregtigheid vir slagoffers van misdaad te verseker. Dit is drie jaar sedert die noodlottige ongeluk en die saak het nog nie voor die hof gekom nie, want die NVG kan nie besluit of dit in die distrikshof of die streekhof aangehoor moet word nie. Dis absurd,” sê Bateman.
Die ongeluk het op Swartvleistrandweg plaasgevind, ’n paar honderd meter van die Sedge Links-gholfbaan in Sedgefield, waar Webster ’n gholfdag bygewoon het. Beeldmateriaal van die voorval wys hoe die impak op die Kia dit agteruit in die rigting waar dit vandaan gekom het, geslinger het voordat dit verskeie kere gerol en aan die kant van die pad gaan staan het. Die SQ5 het aan Webster se werkgewer, Audi Centre George, behoort. Webster en sy passasier, wat ook die gholfdag bygewoon het, het sonder ernstige beserings daarvan afgekom. Van Jaarsveld is onderweg na die hospitaal oorlede, terwyl haar passasier Monique van Zyl, haar skoonsuster, ernstige beserings opgedoen het. Die twee was op pad strand toe.
Keating sê nou komende Donderdag (6 November) is dit drie jaar sedert die gru-ongeluk. “Die volgehoue gebrek aan optrede en die voortgesette stilswye van die NVG het ’n diepgaande impak op ons familie gehad. Wat ’n duidelike en eenvoudige besluit deur die NVG behoort te wees, het eerder ’n lang, pynlike gewag geword. Die afgelope drie jaar leef ons in ’n toestand van onsekerheid terwyl ons wag op die NVG om ’n eenvoudige besluit te neem. Dit het ook ernstige vrae laat ontstaan oor die NVG se vermoë en bereidwilligheid om sy grondwetlike mandaat na te kom om te verseker dat geregtigheid geskied.
“Elke dag wat sonder vordering verbygaan, belemmer ons kanse om te genees en ’n mate van vrede en afsluiting te vind. Dit het ons verdriet verleng en ons diep mismoedig gelaat namate ons vertroue in die regstelsel erodeer. Geregtigheid wat vertraag word, is geregtigheid wat ontsê word. Ander slagoffers van roekelose bestuursake rondom dieselfde tyd het hul geregtigheid gesien geskied en ons moet ook. Ons doen dus weer ’n opregte en dringende beroep op die NVG. Tree beslissend op en laat hierdie saak aangehoor word. Herstel ons vertroue in die instellings wat veronderstel is om geregtigheid vir almal te laat geskied,” pleit Keating.
Die privaatvervolgingseenheid verteenwoordig verskeie families van slagoffers wat in padongelukke dood is. “Ons ervaring toon dat die polisie en die NVG nie sake van strafbare manslag ernstig opneem nie. Dikwels word die ongelukstonele nie behoorlik aangeteken nie, getuieverklarings word nie betyds geneem nie en verslae bly jare lank onvolledig. As die sake uiteindelik die hof haal, ondervind hulle dikwels verdere vertragings wat bykomende frustrasie vir die slagoffers se families veroorsaak,” sê Bateman.
Die eenheid sal voortgaan om druk op die NVG te plaas om te verseker dat die saak op ’n hofrol geplaas en Webster vervolg word. Intussen sal die eenheid Donderdag (6 November 2025) Keo Mavimbela na die Tembisa-landdroshof vergesel, waar Shaune Mogaile aanklagte van strafbare manslag in die gesig staar. Mogaile, ’n professionele sokkerspeler, het met sy BMW Mavimbela se motor reg van voor getref, wat tot die dood van haar negejarige dogter, Gomolemo, gelei het.



